Foto: Donna Lewis
Kool is een van die goedkoopste groentes wat ’n baie slegte reputasie het. Die geheim is om dit nie oorgaar te maak nie en dit goed te geur. Dié sop is ’n moet-maak.
Genoeg vir 6 persone
55 g (60 ml) botter
3 sprietuie, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 kop (500 g) blomkool, in kleiner stukke gebreek
1 rooi brandrissie, fyngekap
500 ml hoenderaftreksel
250 ml melk
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die botter in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die uie en knoffel by en roerbraai 3 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die blomkool by en roerbraai nog 5 minute. Voeg die brandrissie, aftreksel en melk by en bring tot kookpunt. Kook 10–15 minute of tot sag en gaar. Geur goed met sout en peper. Puree in ’n voedselverwerker teen ’n hoë spoed tot ’n gladde sop. Sit warm voor met sambals.
WENK: Vir ekstra smaak, smelt 60 ml botter oor medium hitte tot dit begin verbruin. Voeg 30 ml brandrissievlokkies by. Verwyder van die hitte en skep lepels vol oor die sop.