Witsjokoladewafels met roomys

Foto: Donna Lewis


Die meeste elektroniese winkels en groot supermarkte het wafelmasjiene in voorraad. Dis ’n moet-hê vir enige kombuis! Die pan wat ek gebruik is vierkantig, soos die Belge hulle wafels maak.

Genoeg vir 6 persone

375 ml (210 g) koekmeel 5 ml sout
50 g (60 ml) strooisuiker 15 ml bakpoeier
2 eiers
250 ml melk
20 g (20 ml) gesmelte botter
1 x 100 g-plak witsjokolade, fyngekap
1 liter roomys vir voorsit
175 g vars bessies van jou keuse

Sif die koekmeel, sout, suiker en bakpoeier saam. Voeg die eiers, melk en botter by. Roer met ’n draadklitser tot ’n gladde mengsel. Voeg die sjokolade by en meng deur. Verhit ’n wafelpan en spuit dit goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol van die beslag in die pan en braai tot goudbruin en gaar, sowat 5–10 minute. Plaas die warm wafels op ’n opdienbord en skep ’n bal roomys daarop. Strooi bessies oor en sit voor.

WENK: Verhit jou oond tot 100 °C en plaas die wafels wat klaar gebak het, direk op die oond se rak om warm te bly terwyl jy die res bak.