Herman Lensing
Dié slaai kan jy ook as hoofgereg voorsit. Maak seker jy gebruik goeie wors met ’n lekker sterk smaak. As jy dalk sukkel om chorizo te kry, kan jy gewone varkworsies gebruik; gooi dan so ’n klein bietjie paprika vir smaak by.
genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 (225 g) chorizoworse, in ringe gesny
2 x 400 g-blikke kekerertjies (chickpeas), gedreineer en doppies verwyder
400 g kersietamaties, gehalveer
sap en skil van 1 suurlemoen
1 hand vol vars basiliekruid
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie in ’n middelslag-braaipan tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en wors by. Braai 5–8 minute of tot die uie goudbruin en die wors bros is. Voeg die kekerertjies en tamaties by. Braai 2 minute. Voeg die suurlemoensap en -skil by. Kap die basiliekruid grof en roer by. Geur goed met sout en peper. Sit warm voor.
Wenk: Om die doppies van kekerertjies te verwyder, maak sò: Plaas die ertjies in ’n groot bak water en vryf die ertjies liggies tussen jou hande onder die water. Die doppies sal loskom en boontoe dryf in die bak. Skep af en dreineer die ertjies.