Foto: Donna Lewis
Dié Italiaanse slaai van mozzarella, tamaties en basiliekruid is een van my gunstelinge. Hier maak ek pasta en slaai in een - ook lekker as hoofgereg!
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
400 g kersietamaties
3 takkies tiemie, fyngekap
60 ml balsamiese asyn
30 g (30 ml) botter
300 g suurdeegbrood, in stukkies gebreek of in blokkies gesny
1 x 500 g-pak spaghetti
1 hand vol vars basiliekruid, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper
250 g sagte mozzarella
Verhit die olyfolie in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by. Roerbraai 2 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die tamaties, tiemie en asyn by en braai 5–8 minute of tot die tamaties oopbars. Haal van die hitte af. Verhit die botter in ’n skoon pan en braai die brood daarin tot goudbruin en bros. Kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Gooi dit warm by die tamatiesous en voeg die basiliekruid by. Meng deur. Geur goed met sout en swartpeper. Skep die pasta in ’n opdienbak en breek mozzarellastukke daaroor. Strooi die gebraaide brood- blokkies oor en sit warm voor.
WENK: As jy van vleis by jou kos hou, kan jy so 250 g spek fynkap en dit saam met die ui braai tot goudbruin en bros.