Warm aartappelslaai

Foto: Donna Lewis


Geen braai in Suid-Afrika is ’n braai sonder braaibroodjies en aartappelslaai nie. Waar ek in die Kalahari grootgeword het, het ons winter en somer in reën of wind gebraai – daar was altyd iewers ’n braaivleisvuur aan die gang. My ma het met dié slaai na vore gekom vir koue aande se braai. Jy kan dit ook koud voorsit; dis jou keuse.

Genoeg vir 6-8

2 x 700 g-sakkies baba-aartappels
250 ml goeie olyfolie
sap en skil van 3 suurlemoene
60 ml heuning
60 ml korrelmosterd
1 hand vol Italiaanse pietersielie, fyngekap
250 g spekvleis, fyngesny
sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas die aartappels ongeskil in ’n groot pot en bedek dit met koue water (sit knolgroente altyd in koue water op). Bring tot kookpunt en kook 15–20 minute of tot die aartappels sag is, maar nie pap nie. Maak intussen die slaaisous: Meng die olyfolie, sap en skil van die suurlemoene, heuning, mosterd en pieter- sielie met ’n draadklitser in ’n middelgroot mengbak. Verwarm ’n braaipan en droogbraai die spek daarin tot goudbruin en bros (spek het genoeg eie vet wat in die warm pan sal uitsmelt). Voeg die spek warm by die oly- foliemengsel en meng deur. Geur met sout en peper. Dreineer die aartappels en halveer hulle terwyl nog warm. Gooi die slaaisous daaroor en geur weer goed. Sit louwarm voor met slaaiblare van jou keuse.