Foto: Donna Lewis
Die geheim van dié ikoniese koffie-nagereg is om die mascarpone en eiergele saam te klits tot lekker dik en romerig. Ek vervang die vingerbeskuitjies wat tradisioneel in tiramisu gebruik word met rolkoek. Dit gee die nagereg ’n bietjie meer lyf. Jy kan dit ook in een groot bak maak.
Genoeg vir 6 persone
105 g (125 ml) strooisuiker
2 eiergele
2 x 250 g-houer mascarpone
60 ml baie sterk koffie
5 ml vanieljegeursel
6 klein rolkoekies met karamelvulsel
60 ml kakaopoeier
1 x 100 g-plak donker sjokolade, fyngerasper
Plaas die strooisuiker en eiergele in die bak van ’n elektriese menger. Klits dit teen ’n hoë spoed tot dik en skuimerig, sowat 3–5 minute. Skep die mascarpone lepel vir lepel by terwyl die menger loop. Hou aan klits tot lekker dik. Gooi die koffie en vanielje by. Meng goed. Plaas
die rolkoekies op ’n opdienbord van jou keuse. Skep die mascarpone-mengsel bo- oor. Sif kakaopoeier oor en besprinkel met sjokolade. Sit voor.
WENK: Dié mascarpone-mengsel is ’n ideale koekvulsel. Bak jou geliefkoosde sjokolade- of vanieljekoek en smeer dit tussen die lae.