Foto: Michael le Grange
In die mikro!
Party geregte het die toets van die tyd deurstaan, en laat jou terugdink aan jou ouma of ma se kombuis. Soos dié resep vir vlaskywe - en jy maak dit sommer in die mikrogolfoond.
Genoeg vir 6-8
200 g kraakbeskuitjies (24 Cream Crackers)
100 g (125 ml) suiker
125 ml vlapoeier
1 liter melk
80 g botter, in blokkies gesny
5 ml vanieljegeursel
100 g wit sjokolade, gesmelt
Voer ’n bak met ’n deursnee van 20 x 15 cm en sowat 2 cm diep met kleefplastiek uit. Pak die eerste laag beskuitjies in die bak – die breeklyne van die beskuitjies moet in dieselfde rigting wys. Plaas nou die suiker, vlapoeier, melk, botter en vanieljegeursel in ’n mikrogolfbestande bak en meng. Mikrogolf vir 10-15 minute terwyl jy elke 2 minute roer om klonte te voorkom. Sodra die mengsel dik en gaar is, haal dit uit die mikrogolfoond en giet dit oor die beskuitjies in die bak. Gooi stadig sodat die beskuitjies nie rondskuif nie en smeer gelyk. Pak die oorblywende beskuitjies op die vla met die breeklyne in dieselfde rigting as dié van die onderste beskuitjies. Laat stol oornag in die yskas. Giet gesmelte sjokolade oor en laat stol. Keer uit en sny in blokke so groot soos jy verkies – gebruik die breeklyne as riglyn. Sit voor.