Foto: Donna Lewis
Jy kan dié resep gebruik vir enige vis waarop jy jou hand kan lê. As jy hou van varswatervis, stel ek iets soos forel voor. As jy meer luuks wil wees, sal heel salm baie lekker wees. Die geheim van vars vis is om dit eenvoudig te berei en nie te veel geurmiddels te gebruik nie. Laat die vis se smaak die praatwerk doen.
Genoeg vir 6-8
1 (800 g) heel vis van jou keuse, skoongemaak
2 hande vol pietersielie
2 suurlemoene, in skywe gesny
1 stingel suurlemoengras
4 knoffelhuisies, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper
24 parmahamrepies
Bottersous
4 eiergele
45 ml asyn
60 ml korrelmosterd
500 g botter, gesmelt
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die vis in ’n groot oon- droosterpan en vul die buik met pietersielie, suurlem- oen, suurlemoengras en knoffel. Geur sowel buite-om as binne-in met sout en peper en pak dit dan toe met hamrepies (jy kan die ham ook met gerookte spekrepies vervang). Plaas die vis in die warm oond en bak 25 min- ute oop of tot die spek goudbruin en bros is.
Maak die bottersous terwyl die vis bak: Plaas die eiergele, asyn en mosterd in ’n groot glasbeker waarin die gesmelte botter ook sal pas. Verwerk dit met ’n staafmenger (stick blender) tot goed gemeng. Voeg die botter geleidelik by terwyl die menger loop en blits dit dan tot ’n dik, romerige sous vorm. Geur goed met sout en peper.
Plaas die gaar vis op ’n warm opdienbord en garneer dit met fyngekapte pietersielie. Sit voor met die botter- sous en suurlemoenskywe.