Foto: Donna Lewis
Ek gebruik sommer bevrore stokvis uit ’n boks. Laat dit altyd oornag in ’n vergiettes oor ’n bord ontdooi. Dit help dat die water wegdrup van die vis af.
Genoeg vir 6 persone
2 liter sonneblomolie vir diepbraai
140 g (250 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
2 eierwitte
2 takkies tiemie, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 340 ml-bottel bier
6 stokvisfilette, oornag in ’n vergiettes in jou yskas ontdooi
1 kg-sak bevrore skyfies (ek verkies dié wat baie dun gesny is)
250 ml mayonnaise
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 hand vol vars pietersielie, fyngekap
Verdeel die olie tussen 2 groot potte en verhit tot medium warm. Meng die koekmeel, bakpoeier, eierwitte en tiemie saam in ’n groot mengbak. Geur met sout en peper. Meng genoeg bier by om ’n dik loperige beslag te vorm – dit wat oorbly, mag jy maar drink omdat jy die een is wat kook! Verhoog die olie se hitte tot warm. Doop die visfilette in die beslag en plaas dadelik in die een pot olie. Gooi die aartappelskyfies in die ander pot om te braai tot bros. Herhaal met al die vis en tjips tot jy 6 porsies het. Dreineer die vis en tjips op handdoekpapier. Meng die mayonnaise, knoffel en pietersielie saam. Sit die vis saam met die tjips en mayonnaise voor.
WENK: Stel jou oond op so 120 °C voor jy begin kook. Plaas die klaar gebraaide vis op ’n afkoelrakkie in die warm oond. Die afkoelrakkie laat die hitte egalig om die vis versprei en voorkom dat die bros deeg pap raak.