Vetkoek

Foto: Donna Lewis


My ma het nooit groot geesdrif vir die gisgebak-afdeling gehad nie. Ek weet nie eintlik hoekom nie. Gelukkig het ek ’n groot liefde vir gisgebak gekry en kon ek haar en my pa darem af en toe bederf met warm vetkoek. Die eerste keer dat ek die vetkoek vir hulle gebak het, was ek skaars 6 maande by die sjefskool. En toe ek die vakansie op Upington kom, moes ek darem ’n bietjie afshow! Ek het die deeg self geknie, laat rys, afgeknie, porsies gemaak en gebraai. Ná die eerste vetkoek het my gesin gereken dis die beste ding wat ek kon leer!

Maak 6-8 vetkoeke

1 x 10 g-sakkie kitsgis
10 g sout
300 ml louwarm water
45 ml heuning
5 ml komynsaad
500 g (890 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
olie vir smeer en diepbraai

Meng die gis, sout, water, heuning en komyn met ’n draadklitser in ’n middelslag-mengbak. Voeg die meel geleidelik by en meng verder tot ’n stywe, kniebare deeg vorm. Keer uit op ’n skoon werkvlak en knie totdat die deeg glad en ferm is. Sit dit in ’n skoon bak wat met ’n bietjie olie gesmeer is; laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume. Keer dan die deeg uit op ’n meelbestrooide werkvlak en druk plat tot sowat 1,5 cm dik. Sny met ’n skerp mes reghoeke of sirkels van sowat 10 x 4 cm uit, plaas dit op ’n houtplank wat met nog meel bestrooi is en laat rys op ’n warm plek tot dubbel die grootte (sowat 20 minute). Terwyl die deeg rys, verhit olie tot medium-warm (as dit te warm is, sal die vetkoek brand voor dit deurgaar is). Diepbraai die uitgerysde stukke deeg vir 8-10 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Sit voor met botter en konfyt.