Foto: Donna Lewis
Ek het dié in eendvet gebraaide aartappeltjips die eerste keer by Gordon Ramsey se Maze-restaurant in Londen geëet. Ek kan dit steeds proe: die vuurwarm bros tjips wat sponsagtig sag aan die binnekant is. Natuurlik smaak eendvet die heel lekkerste, maar as jy dit nie in die hande kan kry nie, kan jy dit met kanolaolie vervang – die smaak is neutraal en sal amper dieselfde resultaat gee.
Genoeg vir 6
1 kg aartappels, geskil
500 ml eendvet
500 ml kanolaolie
sout en varsgemaalde swartpeper
Koljander-mayonnaise
250 ml mayonnaise
100 ml jogurt
1 hand vol koljander, fyngekap
sap en skil van 1 suurlemoen
Sny die aartappels met ’n skerp mes in 5 mm dik skywe. Sny elke skyf vervolgens in 5 mm breë tjips, of so breed soos jy dit verkies. Verwarm die vet en olie in ’n kastrol. Gooi twee hande vol skyfies daarin en braai 5 minute of tot gaar maar steeds ferm. Skep op handdoekpapier uit en versprei eweredig om te dreineer – dit gaan nie brosbruin wees nie, net gaar soos gekookte aartappels. Herhaal met die res van die skyfies. Stel die temperatuur hoër en laat die oliemengsel baie warm word. Gooi die afgekoelde skyfies weer twee hande vol op ’n slag daarin en braai sowat 5–8 minute of tot die skyfies goudbruin en bros is. Dreineer op skoon papier en hou in die louoond warm terwyl jy die res braai. Geur goed met sout en peper.
Koljander-mayonnaise: Meng al die bestanddele saam en geur goed met sout en peper. Sit saam met die warm tjips voor.