Foto: Donna Lewis
Hou jou oë by die supermark oop vir ’n hele reeks varkworsies, elkeen met ’n ander kruiegeur. Pleks daarvan om die worsies gaar te braai, stowe ek dit in ’n bietjie wyn en tamatiepasta.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
2 uie, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 x 200 g-blik tamatiepasta
375 ml rooiwyn
1 hand vol vars salie
sout en varsgemaalde swartpeper
12 varkworsies met kruie
8 aartappels, geskil en in blokkies gesny
40 g (45 ml) botter 125 ml melk, louwarm
45 ml korrelmosterd
Verhit die oond tot 200 °C. Verhit die olie in ’n middelslag- oondvaste pot tot goed warm. Voeg die uie en knoffel by en braai 1 minuut. Voeg die tamatiepasta by en braai nog 1 minuut. Voeg die rooiwyn en salie by en bring tot kookpunt. Geur goed met sout en peper. Voeg die worsies by en plaas die pot oop in die warm oond. Laat 15–20 minute in die oond stowe of tot die worsies goudbruin en gaar is. Terwyl die worsies bak, berei die aartappels só: Plaas die aartappels in ’n groot pot en vul dit met water. Kook 10–15 minute of tot die aartappels sag en gaar is. Dreineer in ’n vergiettes. Voeg die botter en louwarm melk by. Druk tot ’n romerige mengsel met ’n aartappeldrukker en roer die mosterd by. Geur goed met sout en peper. Sit saam met die warm worsies voor.
WENK: Dis belangrik om jou melk louwarm te maak voor jy dit by die aartappels gooi – dit help om die mengsel lekker romerig te maak. Moet nooit die aartappels weer warm maak ná jy die mosterd bygevoeg het nie – dit sal die aartappels bitter maak.