Foto: Donna Lewis
Appel en vark is pasmaats gemaak in die koshemel. Gooi ’n hand vol salie by, en op jou bord sal die werk van ’n meester wees!
genoeg vir 6 persone
5 ml olyfolie
6 groot varktjops
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 350 g-sakkie Franse groenbone
330 ml appelwyn (cider)
2 knoffelhuisies, fyngekap
55 g (60 ml) botter, gesmelt
6 takkkies salie, grofgekap
Verhit die oond tot 220 °C. Verhit ’n riffelpan tot vuurwarm – rook moet letterlik daaruit trek. Sprinkel olyfolie oor die tjops en geur goed met sout en peper. Plaas die tjops in die warm pan vir sowat 2 minute per kant of tot riffelmerke wys. Plaas die groenbone in ’n oondroosterpan en plaas die varktjops bo-op. Gooi appelwyn oor. Strooi die knoffel, botter en salie oor. Bak 10–15 minute of tot die vark gaar is. Sit voor.
WENK: As jy nie ’n riffelpan het nie, kan jy die vark in ’n gewone braaipan verbruin. Dit help dat die vark vinniger in die oond gaar word.