Varknek gevul met rys en vrugtekoek

Herman Lensing


Kersfees moet daar altyd gerookte ham (gammon) op my spyskaart wees. Hier is my nuwe weergawe.

Genoeg vir 6

250 ml SPEKKO Brown Saman-rys
6 kruiegegeurde varkworsies
6 salieblare, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
100 g vrugtekoekmengsel
sout en varsgemaalde swartpeper
2,5 kg ontbeende varknek
30 repies gerookte strepiespek (streaky bacon)
350 ml nartjie- of lemoensap
60 ml heuning
4 naeltjies
250 ml soetmosterd vir voorsit

Kook rys volgens aanwysings op pakkie. Meng vleis van varkworsies, salie, knoffel, gaar rys en vrugtekoekmengsel. Geur goed met sout en peper. Plaas varknek op werkvlak. Sny met kort bewegings horisontaal deur die vleis – albei kante moet min of meer ewe dik wees. Stop voor jy heeltemal deur die nek sny en vou die vleis oop soos ’n skoenlapper wat sy vlerke sprei (jy butterfly die vleis). Skep varkworsiemengsel op die vleis en rol stewig op. Draai toe met 30 repies gerookte strepiespek. Vou hele rol toe in kleefplastiek en dan in foelie. Kook genoeg water in ’n pot om rol te bedek en plaas rol in pot. (Vul met kookwater aan soos die water wegkook.) Kook 30 minute vir elke 500 g, maar trek 30 minute af van die kooktyd vir oondbraai. Ons snit het 2 uur gekook en 30 minute gebraai. Verhit oond tot 180 °C. Meng sap, heuning en naeltjies. Haal rol uit water, verwyder foelie en plastiek en plaas in oondroosterpan. Skep nartjiemengsel oor en plaas in oond. Braai stadig tot goudbruin en skep nou en dan van pansous oor. Sit vleis warm voor met soetmosterd van jou keuse.