Foto: Michael le Grange
Moenie vir die rum skrik nie – dit kook weg soos die vark gaar word en sorg vir ’n lekker unieke soet-sout geur.
Genoeg vir 6 persone
4 uie, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, grofgekap
’n hand vol vars salie
500 ml hoenderaftreksel
2 x 330 ml-bottels appelwyn (cider)
100 ml donker rum
2.5 kg varklies aan die been (vra jou slagter om die vel vir jou in te kerf)
15 ml bakpoeier
30 ml vinkelsaad
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die oond tot 160 ̊C. Plaas uie, knoffel, salie, aftreksel, appelwyn en rum in ’n oondroosterbak met varklies (velkant bo) bo-op. Sprinkel bakpoeier oor vleis en vryf met jou vingerpunte in die vel in. Sprinkel vinkelsaad bo-oor en geur goed met sout en peper. Plaas oop in warm oond en bak 2 uur of tot die vet opgepof is. Hou die vloeistof in die pan goed dop – as dit te min raak, voeg meer aftreksel of appelwyn by. Stel die oondtemperatuur hoër, tot 180 ̊C, en bak nog sowat 15 minute tot vet goudbruin is. Verwyder varklies uit oond en laat 10 minute rus. Sit voor met pansous en uie.