Varklies in appelwyn met komkommerslaai

Foto: Donna Lewis


As jy eers een keer varklies geproe het wat stadig in die oond gerooster is, sal jy versot wees daarop. Moet nooit enige vloeistof op die velkant van die lies sit nie – dit sal keer dat dit lekker bros bak. En kies altyd vleissnitte aan die been – dit het meer geur en word gouer gaar.

Genoeg vir 6-8

4 uie
4 knoffelhuisies
1 hand vol vars salie
250 ml hoenderaftreksel
2 x 330 ml-bottels appelwyn (cider)
2,5 kg varklies aan die been – vra jou slagter om die vel vir jou in te kerf
15 ml bakpoeier
30 ml vinkelsaad
sout en varsgemaalde swartpeper

Komkommerslaai
250 ml witwynasyn
100 g (125 ml) suiker
1 komkommer, in ringe gesny
2 rooi-uie, in ringe gesny
2 rooi brandrissies, opgesny
1 hand vol koljander

Verhit die oond tot 160 °C. Gooi die uie, knoffel, salie, aftreksel en sider in ’n oondroosterbak en plaas die varklies met die velkant na bo daarop. Sprinkel die bakpoeier oor die vleis en vryf dit met jou vingerpunte in die vel in. Sprinkel die vinkelsaad bo-oor. Geur goed met sout en peper. Plaas oop in die warm oond en bak 2 uur of tot die vet opgepof is. Hou die vloeistof in die pan goed dop – as dit te min raak, voeg nog aftreksel of sid- er by. Draai die oondtemperatuur tot 180 °C op en bak nog sowat 15 minute tot die vet mooi goudbruin is.

Maak die komkommerslaai terwyl die varklies bak: Bring die asyn en suiker tot kookpunt en roer liggies tot al die suiker opgelos is. Plaas die res van die slaaibestanddele in ’n groot bak en gooi die warm asynmeng- sel daaroor. Laat afkoel.

Verwyder die vark uit die oond en laat dit 10 minute rus. Sit met die komkommerslaai voor.

WENK: Appel en vark is pasmaats wat in die koshem- el gemaak is. Ek sit hierdie varklies met my maklike appelpuree voor: Maak 45 ml botter en 45 ml olyfolie in ’n middelslagpot warm. Voeg daarby 2 gekapte knoffelhuisies, 60 ml bruinsuiker en 4 geskilde appels wat in blokkies gesny is. Gooi 60 ml water by, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat die ap- pelblokkies prut tot dit papsag is. Puree in ’n voedselverwerker, geur goed en sit saam met die vark voor.