Herman Lensing
Hierdie is een van daai voorgeregte wat min moeite verg, maar groot indruk maak. Kom ek wys jou hoe om hierdie heerlike Kalahari-pekanneut-en-sultana-terrien te maak.
Genoeg vir 6
1 × 250 g-pakkie FLM streaky bacon (strepiespek)
800 g varkmaalvleis
60 ml brandewyn
1 ui, fyngekap
15 ml botter
200 ml rooiwyn
250 g FLM pork belly strips, fyngesny
250 g hoenderlewers
1 takkie roosmaryn, fyngekap
6 salieblare, fyngekap
5 ml neutmuskaat
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
100 g pekanneute
100 g sultanas
Verhit die oond tot 180 °C.
Voer ’n 35 × 10 cm-broodpan eers met bakpapier en dan in die breedte met repies spekvleis uit. Hou oorblywende repies eenkant.
Plaas die res van die bestanddele, behalwe die neute en sultanas, in ’n voedselverwerker.
Pols dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Meng die neute en sultanas by.
Skep die mengsel in die uitgevoerde broodpan. As daar spek oor is, pak dit bo-op.
Bedek die pan met foelie en plaas dit in ’n oondbak wat met warm water gevul is.
Plaas in die warm oond en bak 90 minute. Haal die terrien uit en laat dit in die waterbad afkoel. Plaas oornag in die yskas.
Sit voor met basiliepesto en agurkies.