Foto: Michael le Grange
Van die lekkerste dinge wat ek al geëet het was kos wat met die eenvoudigste bestanddele gemaak is. Hierdie uietert is een van daardie resepte. Dit mag op die oog af vervelig en eevoudig lyk, maar dis propvol van alles wat lekker is. Sit saam met vars groenslaai voor en jy het ’n ete perfek vir ’n feesmaal.
Genoeg vir 6-8 persone
30 ml botter
2 knoffelhuisies, gekap
30 ml tiemie, gekap
60 ml balsemiekasyn
12 piekeluie, gehalveer
sout en varsgemaalde swartpeper
200 g sagte bokmelkkaas
100 g pekanneute, grofgekap
1 x 500 g-rol blaardeeg
parmesaankaas vir oorrasper
basiliekruidpesto vir voorsit
Verhit oond tot 180 ̊C. Spuit 22 cm- losboomkoekpan met kleefwerende kossproei en voer met bakpapier uit. Verhit botter tot warm in ’n mediumgroot pan en voeg knoffel by. Roerbraai vir sowat 5 minute of tot knoffel begin verkleur. Voeg asyn en tiemie by. Braai nog 5–8 minute of tot asyn met die helfte weggekook het. Plaas uie met gesnyde kant na onder in pan. Braai nog 5 minute. Geur goed met sout en swartpeper. Haal uie uit (behou die asynstroop) en pak in uitgevoerde koekpan met gesnyde kante na onder. Breek bokmelkkaas in stukkies en pak tussen uie. Sprinkel pekanneute oor. Gooi asynstroop bo-oor alles in koekpan. Rol blaardeeg bo-oor en en druk stewig op uie vas. Sny deeg wat oorhang netjies af. Bak 20–30 minute of tot goudbruin en gaar. Laat vir 5 minute rus. Plaas opdienbord bo-op kors en draai bord vinnig met pan en al om. Lig pan van tert af en rasper parmesaankaas oor. Sit voor met pesto.