Foto: Donna Lewis
Hou jou oë in die supermark oop vir ’n wye reeks bokmelkkase wat gegeur is met kruie; dit gee die tert ’n lekker geur sonder baie moeite.
Genoeg vir 6 persone
1 x 400 g-rol blaardeeg, ontdooi
300 g sagte bokmelkkaas met kruie (chevin)
2 eiers
2 sprietuie, grofgekap
2 knoffelhuisies, grofgekap
sout en varsgemaalde swartpeper 6 klein uitjies
Verhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n 30 cm-losboomtertpan met kleefwerende kossproei. Voer die pan met blaardeeg uit en sny ekstra deeg wat oorhang netjies af. Plaas die kaas, eiers, sprietuie en knoffel in ’n voedselverwerker en puree dit teen ’n hoë spoed tot ’n gladde mengsel. Geur goed met sout en peper. Gooi die mengsel in die tertpan. Sny die uitjies in drie 1 cm-snye. Pak bo-op die tert. Bak 20–25 minute of tot goudbruin en gestol. Sit louwarm voor.
WENK: As jy nie van die smaak van bokmelkkaas hou nie, kan jy dit vervang met roomkaas. Probeer ook volgende keer om die uie te vervang met groot bruin sampioene.