Foto: Donna Lewis
Jy kan my in ’n wip vang met lekker bros uieringe. Die geheim: bier! Probeer ook om rooi en bruin uie te meng – dit gee mooi kleur en ’n ander smaak.
Genoeg vir 6 persone
110 g (250 ml) mielieblom
70 g (125 ml) koekmeel
15 ml bakpoeier
2 eierwitte
340 ml bier
sonneblomolie vir diepbraai
6 uie, in 1 cm-ringe gesny en ringe losgemaak van mekaar
sout en varsgemaalde swartpeper
Sif die mielieblom, meel en bakpoeier saam in ’n middelslag-mengbak. Voeg die eierwitte by en meng met ’n draadklitser. Meng genoeg bier by om ’n dik beslag te vorm – dit wat oorbly, kan jy drink! Verhit die sonneblomolie in ’n middelslagpot tot goed warm. (Die olie is warm genoeg as jy ’n klein bietjie beslag indrup en dit begin dadelik borrel.) Doop die uieringe in die beslag en skud die ekstra beslag af. (Ek gebruik my hande hiervoor, want dis die maklikste.) Gooi dit in die olie en braai 5–8 minute of tot goudbruin en bros. Herhaal tot al die uie opgebruik is. Dreineer op handdoekpapier en geur met sout en swartpeper. Hou die gaar uieringe in ’n lou oond teen 100 °C warm.
WENK: Moenie te veel uie op een slag in die pot gooi nie – die uie sal stoom en nie lekker goudbruin braai nie.