Uie-en-spek-bierbrood

Foto: Donna Lewis


Het jy al gehoor van garage-bier? Dis bier wat mense op klein skaal in hulle, wel, garage brou. Hierdie biere is deesdae om elke hoek en draai by markte of drankwinkels te koop. Tuisgemaakte bier het gewoonlik ’n baie lekker smaak en is perfek om mee te kook. Probeer dié brood met verskillende biere bak om die verskil te proe.

Genoeg vir 6

500 g (890 ml) koekmeel
30 ml bakpoeier
30 ml gekapte tiemie
1 ui, fyngekap
5 ml sout
5 ml varsgemaalde swartpeper
250 g-pakkie spekblokkies
375 ml (1 blikkie) bier

Verhit die oond tot 180oC. Meng die meel, bakpoeier, tiemie, ui, sout en peper in ’n groot mengbak saam. Voeg die spek en bier by. Roer met ’n houtlepel tot alles goed gemeng is. Skep die beslag in ’n broodpan van 21 x 11cm wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Bak 35–40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer op ’n draadrak uit en laat afkoel. Sit voor met botter en konfyt.