Foto: Donna Lewis
Dit was altyd my werk as kind om die brood vir Sondagaand se jafels met botter te smeer. My ma het gewoonlik vir ons op Vrydae ’n groot pot iets met maalvleis gemaak: soms kerrie, maar meestal bolognese. Die oorskiet is ná aandete in die yskas gesit vir Sondag se jafelaand. Wanneer ons op vakansie gegaan het, is die jafelpan ook ingepak, maar eendvoudiger vulsels soos tuna-mayonnaise is dan gemaak. Ek moet sê, ek verkies nog steeds die tunaweergawe!
Genoeg vir 6
2 x 170 g-blikke tuna, gedreineer
2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
1 rooi brandrissie, fyngekap
1 rooi-ui, fyngekap
250 ml goeie gehalte-mayonnaise
1 hand vol vars koljander, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper
12 groot snye witbrood
55 g (60 ml) sagte botter
Plaas die tuna, knoffel, rissie en ui in ’n groot mengbak. Voeg die mayonnaise en koljander by. Meng goed deur met ’n groot metaallepel. Proe, en geur dan met sout en peper. (Wees versigtig met die sout, want soms is die tuna bietjie sout van die manier waarop dit ingemaak is.) Smeer die brood met botter en plaas ’n sny botterkant na buite in die jafelpan. Skep lepels vol tunamengsel bo-op en sit nog ’n sny brood bo-op. Druk stewig toe en sny brood wat uitsteek netjies met ’n skerp mes af. Bak op die stoof oor hoë hitte tot goudbruin, sowat 5 minute per kant (as jy kampeer, sal dit warm kole wees). Sit warm voor.