Vakansie-trifle

Foto: Michael le Grange


Dís trifle soos my ma dit gemaak het. Ek gee nie om wie my judge nie – dit smaak soos ek Kersfees op sy beste onthou. Want niemand doen dit beter as ’n ma nie.

Genoeg vir 6-8

VULSEL
1 x 410 g-blik ingedampte melk (Ideal Milk)
800 ml water
45 ml botter
140 g koekmeel
knippie sout
180 ml suiker
3 eiers, geskei
5 ml vanieljegeursel

KOEKLAE
3 pakkies jellie (in 3 kleure)
1 groot konfytrol (Swiss roll)
1 x 410 g-blik perskeskywe
150 ml sherrie (Old Brown Sherry, volgens my ma se streng instruksie!)
200 g pekanneute, fyngekap, plus ekstra vir voorsit
250 ml room
vars vrugte vir voorsit

Plaas ingedampte melk met 600 ml van die water en die botter in ’n pot en verhit tot kookpunt. Meng meel, sout en suiker saam. Voeg eiergele en oorblywende water by meelmengsel en meng tot gladde pasta. Gooi by melkmengsel en hou aan roer oor lae hitte tot dit verdik soos vla en gaar word, sowat 8–10 minute. Voeg vanieljegeursel by en meng deur. Klits eierwitte styf. Voeg by warm papmengsel en vou deur. Plaas in skoon mengbak, bedek direk met kleefplastiek en laat afkoel. Maak jellie aan volgens aanwysing op pakkie en laat stol elkeen apart. Bou die trifle Klits afgekoelde vla tot fluweeltekstuur. Skep 1⁄4 van vla onderin
’n mooi bak van jou keuse. Sny rolkoek in skywe en pak 1/3 van rolkoek op vla. Skep 1/3 van perskeskywe bo-op en sprinkel ’n bietjie sherrie oor. Breek gestolde jellie met ’n vurk op en skep 1/3 van elke kleur bo-op. Sprinkel ’n hand vol gekapte neute oor. Skep verdere 1⁄4 van vla bo-oor, gevolg deur lae rolkoek, sherrie, perskes en neute. Hou aan tot alles opgebruik is, en eindig met vla. Laat 2–3 uur in yskas rus. Klop room tot sagtepunte en skep bo-op. Garneer met vars vrugte en sit voor.