Tong met mosterdsous

Foto: Michael le Grange


Daar is sekere geregte wat maar net altyd hul pad tot op die Kerstafel sal vind. Bederf jou gesin met hierdie weergawe – sultanas is die towerbestanddeel van dié resep!

Genoeg vir 6-8 persone

1 gepekelde beestong
2 uie, in skywe gesny
2 wortels, in ringe gesny
8 swartpeperkorrels

MOSTERDSOUS
50 g sultanas
250 ml kookwater
80 ml mosterdpoeier
120 ml witwynasyn
180 ml suiker
8 eiergele
10 ml botter
vars kruie van jou keuse vir garnering

Week tong vir 3 uur in ’n kastrol met koue water. Gooi water af en bedek tong met skoon water. Voeg uie, wortels en peper- korrels by. Kook stadig tot sag, sowat 60–90 minute. Trek vel af terwyl nog warm en laat tong in kookvloeistof koud word.

Mosterdsous Week sultanas vir 1 uur in kookwater. Dreineer. Plaas mosterdpoeier, witwynasyn, suiker, eiergele en sultanas in ’n glasbak en meng. Plaas glasbak oor ’n pot met kokende water – die water moenie aan die bak raak nie – en roer tot mengsel dik en gaar is. Haal van hitte af en meng botter by. Laat afkoel. Gebruik ’n skerp mes om tong in skywe van 5 mm dik te sny. Pak op opdienbord en skep lepels vol mosterd oor. Garneer met kruie en sit voor.