Thai-viskoekies met kruisementjogurt

Foto: Donna Lewis


Witvis soos stokvis (hake) is baie bekostigbaar en neem ander smake waarmee dit gegeur word, maklik op. Gebruik kerriepasta wat jy in ’n pakkie koop vir die beste geur. Die suurlemoengras is ’n moet vir dié resep.

Genoeg vir 6 persone

750 g witvis, vel verwyder en grofgesny
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekap
2 rooi brandrissies, gekap
1 hand vol koljander, grofgekap
1⁄2 stingel suurlemoengras (lemon grass), gekap
90 ml Thaise groenkerriepasta
sout en varsgemaalde swartpeper
60 ml olyfolie

Jogurt
250 ml Griekse jogurt
1 hand vol kruisement, gekap sap en skil van 1 suurlemoen

Plaas al die bestanddele vir die viskoekies behalwe die laaste twee in ’n voedselverwerker en puree dit tot ’n growwe mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Verdeel die mengsel in 6 porsies en vorm ronde balle. Verhit
die olyfolie in ’n groot braaipan tot goed warm en plaas die koekies daarin. Druk plat met ’n eierspaan tot sowat 1 cm dik. Braai sowat 5–6 minute per kant of tot goudbruin en gaar.

Jogurt: Meng al die jogurtbestanddele saam, geur goed met sout en peper, en sit saam met die viskoekies voor.

WENK: Jy kan ’n kombinasie van visse vir die koekies gebruik. Ek hou daarvan om iets soos salm of forel saam met die witvis te gebruik. Dis redelik olieryk, wat die viskoekies lekker sappig maak.