Tamatierisotto

Foto: Michael le Grange


Ek kan nooit genoeg risotto-resepte in my kas hê nie. In die winter is dit die soort kos wat jou warm maak van binne.

Genoeg vir 4

1 ui, fyngekap
380 g (500 ml) SPEKKO INDIA GATE BASMATI RICE
125 ml witwyn
1 x 115 g-bakkie tamatiepasta
100 g (110 ml) botter
650 g parmesaankaas, fyngerasper, plus ekstra vir voorsit
500 g gemengde kersietamaties, gehalveer
olyfolie
sout en vars gemaalde swartpeper

Verhit ’n groot skeut olyfolie tot warm in ’n groot pot. Voeg uie en rys by. Roerbraai 1-2 minute of tot uie begin verbruin. Voeg wyn by en roer tot vloeistof weggekook het. Meng 1 500 ml kookwater met tamatiepasta. Giet 500 ml tamatievloeistof by rys en meng deur. Maak pot toe en laat kook vir 5 minute of tot rys vloeistof geabsorbeer het. Herhaal met res van tamatievloeistof – 500 ml op ’n slag. Sodra al die vloeistof geabsorbeer is, verwyder van hitte en voeg botter en parmesaankaas by. Roer tot romerige mengsel, en geur met sout en peper na smaak. Skep in ’n opdienbak en skep gehalveerde kersietamaties bo-op. Sit voor met ekstra parmesaankaas.