Tamatie-en-basiliekruidsop

Foto: Donna Lewis


Die lekker van dié resep is die tamaties wat jy in die oond rooster. Maak seker jy gebruik klein tamaties soos rosa of roma. Hoe kleiner die vrug, hoe geuriger smaak dit.

genoeg vir 6 persone

12 (500 g) tamaties, gehalveer
4 knoffelhuisies, gekap
45 ml olyfolie
40 g (45 ml) botter
1 ui, fyngekap
250 ml rooiwyn
1 x 400 g-blik kersietamaties
1 x 250 ml-houer room
1 hand vol basiliekruid
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die tamaties op ’n bakplaat en sprinkel die knoffel en olyfolie daaroor. Rooster
10–12 minute of tot sag. Verhit die botter in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui by en braai 1 minuut. Voeg die gebakte tamaties, rooiwyn en ingemaakte tamaties by. Bring tot kookpunt en laat 10 minute prut. Voeg die room by en prut nog 5 minute. Voeg die basiliekruid by. Geur goed met sout en peper. Puree in ’n voedselverwerker tot ’n stukkerige of gladde sop, nes jy verkies. Sit warm voor.

WENK: As jy ’n gladde tamatiesop verkies, kan jy die sop deur ’n sif druk om van al die skille en pitte ontslae te raak.