Taai hoendervlerkies met roomkaas-doopsous

Foto: Donna Lewis


Ek hou nou maar eenmaal van dié hoendervlerkies op my spyskaart. Dis goedkoop en jy kan dit binne minute gaarmaak. Sorg vir klam lappies om die vingers mee af te vee!

Genoeg vir 6 persone

2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml sojasous
30 ml hoisin-sous
30 ml heuning
30 ml olyfolie
5 ml rooipeper
18 hoendervlerkies
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 250 g-houer roomkaas gegeur met grasuie (chives)

Verhit die oond tot 220 °C. Meng die knoffel, sojasous, hoisin-sous, heuning, olyfolie en peper saam. Voer ’n groot oondroosterbak met tinfoelie uit en pak die hoendervlerkies daarin. Gooi die sous oor en geur goed met sout en peper. Rooster 20–25 minute of tot die hoender lekker bros en taai is. Sit voor met roomkaas.

WENK: Maak jou eie roomkaas-doopsous deur ’n 250 g-houer roomkaas te meng met ’n hand vol grasuie wat jy fyngekap het. Gooi die sap en skil van 2 suurlemoene by. Geur goed met sout en swartpeper.