Suurlemoenroom met papierdun vanieljekoekies

Foto: Donna Lewis


Een van die maklikste nageregte wat jy ooit sal maak. Dis baie ryk, so sit dit in klein porsies voor. Dié papierdun koekies staan in Frans as tuiles bekend. Tradisioneel is dit gebak en terwyl nog warm oor dakteëls geplaas om, sodra afgekoel, ’n halfronde vorm aan te neem. Die koekies is ook mooi as garnering op afshow-nageregte.

Genoeg vir 6

300 ml dubbeldik room
80 g (95 ml) strooisuiker
70 ml vars suurlemoensap (dit moet vars wees, anders stol die room nie)
250 ml lemoensmeer (orange curd).

Papierkoekies
50 g (55 ml) botter, gesmelt
50 g (95 ml) versiersuiker
50 g (90 ml) koekmeel
2 eierwitte

Bring die room en strooisuiker tot kookpunt en laat 5 minute vinnig kook. Verlaag die hitte en roer die suur- lemoensap by sodra die room stadig prut. Roerprut dan nog 5 minute. Verdeel tussen 6 glasies en laat sowat 2 uur in die yskas staan tot koud en gestol.

Koekies: Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die botter, versiersuiker, meel en eierwitte in ’n middelslagbak en meng tot glad. Voeg die geursel by en meng goed. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit dit baie goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol beslag op die papier en smeer dit met die agterkant van ’n lepel om papierdun vryvorms te verkry. Bak 5–8 minute of tot die koekies begin verbruin. Laat afkoel. Skep lemoensmeer op die gestolde room en sit voor met die koekies.

WENK: As die nagereg te ryk na jou smaak is, kan jy die helfte van die room met dik Griekse-styl- jogurt vervang. Week dan net 5 ml gelatien- poeier in 20 ml water tot sponsagtig en voeg dit by die warm roommegsel voor jy dit laat stol (daar is te min vet in die jogurt om van- self te stol).