Steurgarnale op ’n stokkie

Foto: Donna Lewis


Kos wat jy voorsit op ’n stokkie lyk sommer van die begin af baie fênsie! Kataifi-deeg is ’n Griekse deeg wat gemaak word van gerasperde fillodeeg. Jy kry dit by deli’s en spesialiteitswinkels. Jy kan die deeg ook vervang met fillovelle.

Genoeg vir 6 persone

18 steurgarnale, skoongemaak en doppe verwyder
18 hout-kebabstokkies
sout en varsgemaalde swartpeper
400 g kataifi-deeg
1 eier, liggies geklits
750 ml sonneblomolie vir diepbraai

Doopsous
250 ml goeiegehalte-mayonnaise sap en skil van 2 suurlemoene
2 knoffelhuisies, fyngemaal

Ryg die garnale op die kebabstokkies. (Begin by die stertkant sodat die steurgarnaal se stertjie die verste weg van die stokkie se punt af is.) Geur goed met sout en peper. Rol die kataifi-deeg oop en sny ’n 5 cm- lange reep af. Draai ’n garnaal toe in die deeg en verf die punt met geklitste eier. Druk stewig vas. Herhaal met al die garnale. Verhit die sonneblomolie in ’n groot pot tot goed warm. Diepbraai die steurgarnale tot die deeg goudbruin en bros is, sowat 3–5 minute. Dreineer op handdoekpapier. Meng al die doopsousbestanddele saam en geur goed met sout en peper. Sit die steurgarnale warm voor met die doopsous.

WENK: Rou knoffel in doopsouse kan onaangenaam wees as dit nie baie fyn gemaal is nie. Maak só: Kap die knoffelhuisies fyn en sprinkel ’n knippie sout oor. Gebruik die kant van jou mes se lem en vryf heen en weer oor die knoffel totdat dit ’n pasta vorm.