Foto: Donna Lewis
Een van my gunstelinge om voor te sit. Maak seker jy gebruik goeiegehalte-steak; daar is niks so teleurstellend om die kors van ’n pastei oop te breek en daar dryf ’n laag vet bo-op nie. Gebruik fillodeeg vir die kors, dit word vinnig gaar.
Genoeg vir 6 persone
45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
30 ml heel komynsaad
20 ml vinkelsaad
600 g goeiegehalte-steak, in blokkies gesny
1 x 200 g-blik tamatiepasta
250 ml rooiwyn
250 ml beesaftreksel
3 takkies tiemie
sout en varsgemaalde swartpeper
6 velle fillodeeg
40 g (45 ml) botter, gesmelt
100 g pampoenpitte
Verhit die oond tot 200 °C. Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot. Voeg die ui en knoffel by en roerbraai 1 minuut. Gooi die speserye by en braai nog 2 minute. Voeg die steakblokkies by en braai 2–3 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die tamatiepasta, rooiwyn, aftreksel en tiemie by. Verlaag die hitte en laat 10– 15 minute prut of tot ’n lekker sous vorm. Geur goed met sout en peper. Skep die vleismengsel in ’n 30 cm-pasteibak van jou keuse. Plaas die fillodeeg bo-op en verf met botter. Sprinkel die pampoenpitte oor en bak 10–12 minute of tot goudbruin.
WENK: Jy kan ook individuele pasteie maak as jy meer fênsie wil lyk. Maak dit in klein oondvaste koppies of bakkies van jou keuse.