Steak met romerige mosterdsous

Foto: Donna Lewis


Die befaamde sjef, Pete Goffe-Wood, het my die resep vir die sous geleer terwyl ek nog ’n student by ICA was. Dis die lekkerste sous wat ek nog steeds maak.

Genoeg vir 2 persone

45 ml olyfolie
sap en skil van 2 suurlemoene
2 T-been-steaks (sowat 350 g elk) sout en varsgemaalde swartpeper

Sous
30 ml olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekap
1 x 250 g-pakkie spek, grofgekap
60 ml witwyn
30 ml rooiwynasyn
250 ml beesvleisaftreksel
1 x 250 ml-houer room
30 ml korrelmosterd
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Maak die sous eerste: Verhit die olyfolie in ’n middelslagpot tot goed warm. Voeg die ui, knoffel en spek by en braai 5–8 minute tot bros. Voeg die witwyn, asyn, aftreksel en room by. Kook verder tot die vloeistof met twee derdes verminder het. Dreineer deur ’n sif en roer die korrelmosterd by. Geur met sout en peper. Hou eenkant.

Steak: Verhit ’n riffelpan tot baie warm – rook moet letterlik daaruit trek. Sprinkel die olyfolie en suurlemoensap en -skil oor die vleis. Geur goed met sout en peper. Braai sowat 5–8 minute per kant tot mediumgaar, of langer as jy verkies. Laat 2 minute rus en sit voor met die sous en aartappels.

WENK: Moenie die sous op die hitte terugplaas ná jy die mosterd bygeroer het nie – dit sal ’n bitter smaak kry as jy dit te warm maak. As jy die sous wil verhit, doen dit oor ’n pot met kookwater.