Foto: Michael le Grange
As jy uit die Kalahari kom, sal jy staanrib ken. Dis ’n maklike manier om te braai en te kuier. Die vleis raak op sy eie tyd gaar.
Genoeg vir 6
1 groot, heel lamsrib
varsgemaalde seesout
40 ml heel koljandersaad, grofgemaal
varsgemaalde swartpeper
100 ml rooiwynasyn
KONDENSMELKMOSTERD
125 ml bruinasyn
45 ml mosterdpoeier
365 g-blik kondensmelk
Kry kole lekker warm (jy moet ’n tweede vuurtjie maak, sodat jy nou en dan ekstra kole kan bysit). Gebruik ’n skerp mes om ’n diamantpatroon op die vetkant van die rib te sny. Sprinkel vetkant ruim met seesout, koljander en swartpeper. Gebruik jou vingers en vryf die speserye oral in die vet in. Sprinkel asyn oor en plaas rib in toeklaprooster. Krap kole plat en plaas twee bakstene tussen die kole. Laat staan rooster op sy sy tussen die twee bakstene en krap kole nader, na gelang van hoeveel hitte jy naby die vleis wil hê: Jy wil die rib baie stadig gaarmaak sodat al die vet uitbraai en die vleis lekker bros raak – sowat 2 uur. Draai die rooster soms om sodat die ander kant van die rib na onder wys. Sit nou en dan ekstra kole by.
Kondensmelkmosterd Meng asyn en mosterdpoeier saam tot glad. Voeg kondensmelk by en meng. Sodra rib goudbruin en bros is, sny dit in porsies en sit voor met kondensmelkmosterd.