Karamelspringmielies met brandewyn

Foto: Donna Lewis


Daar is iets spesiaals daaraan om gaste te bederf met gister se soetgoed, maar opgetof vir grootmense. Ek maak dié springmielies gereeld en sit dit dan voor met goeiegehalte- brandewyn. Die soet van die karamel werk hemels saam met yskoue brandewyn.

Genoeg vir 6 persone

60 ml sonneblomolie 125 ml water
250 g springmielies (Ek verkies Biggi s’n)
40 g (45 ml) botter
200 g (250 ml) suiker

Verhit die sonneblomolie in ’n groot pot met ’n deksel tot goed warm. Gooi die mielies in die pot en plaas die deksel op. Laat al die mielies uitpof, sowat 5–8 minute. Hou goed dop sodat die mielies wat klaar uitgepof het, nie brand nie. Gooi die mielies in ’n dun lagie op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Maak die karamel terwyl die mielies uitpof: Plaas die suiker en water in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt en laat 5–8 minute kook of tot ’n goue karamel vorm. Verwyder van die hitte en gooi die botter by. Skud die pot versigtig heen en weer tot die botter by die karamel ingemeng het. Gooi oor die springmielies en meng vinnig deur om die karamel eweredig oor die mielies te versprei. Laat afkoel en sit voor met yskoue brandewyn.

WENK: Dis mos deesdae die in ding om so ’n klein bietjie sout saam met karamel te eet – dit breek die soet. As jy waaghalsig voel, kan jy dus ook so ’n klein bietjie varsgemaalde sout oor die mielies gooi.