Foto: Michael le Grange
’n Klassieke Italiaanse nagereg uit Sisilië. Die koekiedeeg word om spesiale metaalpypies gebraai, maar as jy die pypies nie in die hande kan kry nie, kan jy cannelloni-pastabuise gebruik.
Genoeg vir 12-14 persone
KOEKIES
160 g (280 ml) koekmeel 45 ml strooisuiker
3 ml kaneel
3 ml sout
90 ml wit portwyn
45 ml botter, gesmelt
ROOMVULSEL
300 ml melk
100 g karamelspringmielies
3 eiergele
60 ml bruinsuiker
45 ml koekmeel
olie vir diepbraai
1 groot eierwit, liggies geklits 250 ml room
Meng bestanddele vir koekiedeeg. Laat deeg in yskas rus terwyl jy die vulsel maak.
Roomvulsel Bring melk en helfte van springmielies tot kookpunt. Skakel hitte af en laat 5 minute staan. Gooi melk deur sif om mielies te verwyder (gooi mielies weg). Klits eiergele, suiker en meel saam tot gladde pasta. Gooi pasta saam met melk terug in pot en klits oor lae hitte. Verhoog hitte en roer tot mengsel dik en gaar is (soos witsous). Haal van hitte af, plaas bakpapier direk op mengsel en laat afkoel.
Koekies Verhit olie in groot pot tot warm. Breek okkerneutgrootte stukkies van koekiedeeg af en rol papierdun sirkels op meelbestrooide werkvlak uit. Draai deegsirkels om metaalpypies met deursnee van 1.5 cm en lengte van 5 cm. Plak los punte met eierwit vas. Diepvetbraai pypies 2–3 minute tot goudbruin. Dreineer gebraaide cannoli op kombuispapier en verwyder versigtig van pypies. Klits room styf en vou by vulselmengsel in. Skep in spuitsak en vul cannoli daarmee. Sit voor met oorblywende springmielies en ’n strooisel versiersuiker.