Spinasielamsboud met ouma se soet mosterd

Foto: Donna Lewis


Genoeg vir 6

Lamsboud vra om min bestanddele wat heerlik gaargemaak en met liefde voorgesit word. Hierdie resep is een van my gunstelinge omdat die boud met groente gevul word en mens dus nie veel moeite met groente as bykos hoef te doen nie. Gebakte aartappels saam met die boud is al wat jy nog nodig het!

Genoeg vir 6

300 g spinasie, grofgesny
8 snye witbrood, fyngekrummel
100 g (110 ml) botter, gesmelt
4 knoffelhuisies, gekap
100 g gruyèrekaas, fyngerasper
4 takkies roosmaryn, fyngekap
6 ansjovisfilette, fyngesny
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x 2 kg-lamsboud, tonnelontbeen tot net
voor die skenkel
30 ml fyn koljander
500 ml lamsaftreksel

Verhit die oond tot 120 °C. Meng al die bestanddele behalwe die lamsboud, koljander en aftreksel. Geur die vulsel goed met sout en peper en stop dit met die hand in die holte waar die boudbeen was. Bind die gat met kombuistou toe. Plaas die boud in ’n oondroosterbak, smeer die vetkant met koljander en geur goed met sout en peper. Gooi die aftreksel in die bak, sit die deksel op en oondbraai 5 uur. Verwyder die deksel en oondbraai nog 30 minute tot goudbruin. Laat afkoel en sit voor met outydse soet mosterd.