Spek-en-eierpasta

Foto: Donna Lewis


Ek is mal oor pasta. Nee, ek is verslaaf daaraan! Ek is gedurig op soek na nuwe idees en planne om dit heerlik voor te sit. Een ding wat ek by my Italiaanse vriende geleer het is: Mens sit pasta met sous voor, nie sous met pasta nie. In hierdie resep is pasta dus koning. Dis boonop goedkoop, vinnig en regtig maklik om te maak. Jy kan dit ook koud as slaai voorsit. En vir ekstra smaak kan jy gestoomde ertjies by die sous inroer.

Genoeg vir 6

45 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
250 g spekblokkies
250 ml room
100 g parmesaankaas, fyngerasper
12 eiers
1 x 400 g-pak spaghetti
sout en varsgemaalde swartpeper
80 g babaslaaiblare van jou keuse

Verwarm die olyfolie in ’n groot pan. Voeg die ui, knof- fel en spek by. Roerbraai 5–8 minute of tot die spek en ui goudbruin is – maak seker dis lekker bruin, want dis waar die meeste smaak vandaan gaan kom. Voeg die room by en verlaag die hitte. Laat prut tot ’n romerige sous vorm, sowat 3–5 minute. Verwyder van die hitte en roer ̊ van die parmesaankaas by. Kook die eiers soos verkies (sien wenk hieronder) en skep uit met ’n gaatjieslepel – moenie die water we- ggooi nie, want die pasta gaan daarin gaargemaak word. Spoel die eiers onder koue water af. Bring die pot eierwater weer tot kookpunt en kook die spaghetti daarin volgens die aanwysings op die pak. Dop die eiers af terwyl die pasta kook. Dreineer die pasta sodra gaar, voeg dit by die warm roomsous en meng deur. Geur goed met sout en peper, en skep op ’n opdienbord. Dop die eiers af, halveer in die lengte en pak bo-op die pasta. Sprinkel die oorblywende parme- saan oor en sit voor met die slaaiblare.

So kook jy die beste eiers:
Plaas die eiers in ’n kastrol en bedek met koue water. Moenie ’n deksel opsit nie. Sit die kastrol op ’n stoof- plaat wat op matige hitte gestel is en bring die water tot kookpunt. Die kooktyd sal af- hang van hoe hard die eiers moet wees (sien hieronder). Bepaal die tyd van die oomblik dat die water begin kook. Haal die kastrol van die plaat af sodra die verlangde graad van gaarheid bereik word en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses dadelik kan stop.

  • Saggekookte eier: 1.5 minute – die eierwit is nog effens rou om die geel.
  • Mediumgaar: 5 minute – die eierwit en geel is heeltemal gestol, maar die eiergeel is nog effens sag in die middel.
  • Hardgekook: 10 minute – die eiergeel is nou heeltemal gestol en ligter van kleur soos in die klassieke hardgekookte eier.