Foto: Donna Lewis
Terwyl ek geswot het om ’n sjef te word, was ek baie bevoorreg om saam met Abigail Donnelly van Taste te werk. Sy is’n wondervrou en kan enige slaai soos ’n skildery op ’n foto laat lyk – dan smaak dit nóg lekkerder. Hier is ’n slaai tot haar eer. Dankie vir dit wat jy my geleer het, Abigail!
1 groot spanspek, in 16 wiggies gesny
60 ml olyfolie
2 rooi brandrissies, fyngekap
1 x 80 g-sakkie wilderoket
150 g Italiaanse kouevleise
150 g sagte mozzarellakaas
1 x 125 g-houer basiliekruidpesto
1 hand vol basiliekruid
sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit ’n riffelpan tot vuurwarm – rook moet letterlik daaruit trek. Besprinkel die spanspek met olyfolie en brandrissies. Braai sowat 2–3 minute per kant in die warm pan of tot die spanspek roostermerke het. Plaas roketblare in ’n slaaibord en pak spanspekwiggies bo- op. Pak kouevleis tussenin. Breek die mozzarella in kleiner stukke en pak tussenin. Skep basiliekruidpesto oor en besprinkel met vars basiliekruid. Geur goed met sout en peper. Sit voor.
WENK: Strooi volgende keer kappertjie- saad oor jou gunstelingslaai om tekstuur daaraan te gee, maar maak so: Verhit ’n klein bietjie olie in ’n warm pan en braai ’n paar kappertjiesade tot hulle oopbars en bros raak. Dit maak hulle minder sout.