Spaanse hoender

Foto: Donna Lewis


My tydskrifmentor, Barbara Joubert van SARIE KOS, het die eerste keer vir my dié hoender gemaak. Sy weet al as sy my vir ete nooi, moet dié een op my bord wees. Hier is die weergawe wat ek maak. Dankie, Barbs, vir die kosinspirasie wat jy my gee!

genoeg vir 6 persone

45 ml olyfolie
1 ui, grofgekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
4 chorizoworse, in ringe gesny
8 hoenderstukke
250 ml langkorrel-witrys
45 ml gerookte paprika
200 g (500 ml) bevrore ertjies
2 lourierblare
sout en varsgemaalde swartpeper
500 ml hoenderaftreksel
1 hand vol vars pietersielie, gekap

Verhit die oond tot 200 °C. Verhit die olyfolie in ’n groot oondvaste braaipan tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by. Roerbraai 1 minuut. Voeg die wors by en braai nog 1 minuut. Voeg die hoenderstukke by en braai so 2–3 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die rys en paprika by en meng deur. Voeg die ertjies en lourierblare by. Geur met sout en peper. Gooi die aftreksel by en bring tot kookpunt. Plaas in die oond en bak 20–25 minute of tot die rys en hoender gaar is. Gooi nog aftreksel by indien nodig. Roer pietersielie deur en sit voor.

WENK: Jy kan soetrissie wat in groot stukke gesny is, byvoeg en saam met die hoender gaar bak.