Foto: Michael le Grange
As my ma wou “afshow” voor haar vriende, het sy ’n ysbak gemaak waarin sy die Kersfeespons bedien het. Dit bly vir my mooi.
Maak 2 liter
YSBAK
2 liter water
kruie van jou keuse
PONS
1 liter water
200 g (250 ml) suiker
moes van 8 grenadellas
6 sakkies rooibostee
1 kg gebreekte ys
2 liter limonade
vrugte van jou keuse, gesny soos jy verkies
Ysbak Kook 2 liter water en laat afkoel. Kook weer en laat afkoel tot koud – dit maak die ys deursigtig. Vul ’n groot vrieskasbestande bak halfpad met af- gekoelde water. Plaas ’n tweede, kleiner bak in die water en plaas iets swaar soos ’n blikkie vrugte binne-in sodat die gewig dit afdruk en die water in die onderste bak tot by die rand van die boonste bak kom. Plak twee repe kleeflint oorkruis bo-oor albei bakke sodat dit stewig vassit. Druk vars kruie van jou keuse oral in die water en vries die twee bakke oornag in vrieskas.
Pons Plaas 1 liter water, suiker en moes in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Laat prut 5–8 minute of tot vloeistof met die helfte verminder het. Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat trek die tee 5–8 minute, of langer as jy dit sterker verkies. Verwyder sakkies en laat die stroop afkoel tot heeltemal koud. Verwerk met staafmenger tot puree. Haal twee bakke uit vrieskas, doop dit vinnig in kookwater en haal die ysbak uit. Plaas op mooi bord. Plaas ys en koue stroop in ysbak. Gooi limonade oor en meng liggies deur. Sit voor met vrugte.