Foto: Donna Lewis
Weskuskos is kos wat my baie na aan die hart lê – nie omdat ek ooit daar gewoon het nie, maar omdat ek die tonne liefde daarin kan proe elke keer dat ek die streek besoek. Die kos is eerlik en eenvoudig, en die smake hemels. Ek het my twee Weskus-gunstelinge, snoek en patats, tot een gemaak. Perfek vir die middel van die week.
Genoeg vir 6-8
45 ml botter
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 x 200 g-pakkies gerookte snoek, fyngevlok
1 hand vol koljander, fyngekap
45 ml korrelmosterd
2 rooi brandrissies, fyngekap
240 g (250 ml) soetpatats, gaargekook en fyngedruk
140 g (250 ml) koekmeel
2 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper broodkrummels vir ’n broslagie
60 ml olyfolie
Verwarm die botter in ’n middelslagpot. Voeg die ui en knoffel by en braai sowat 5 minute liggies of tot dit begin verkleur. Voeg die snoek saam met die koljander, mosterd, brandrissies, patats, meel en eiers by. Geur met sout en peper en meng goed saam. Vorm koekies van sowat 100 g elk, doop dit in broodkrummels en druk stewig vas. Verwarm die olyfolie in ’n groot braaipan en braai die koekies 5–8 minute per kant of tot goudbruin en bros. Sit voor met mayonnaise en ’n slaai van jou keuse.
WENK: Die waterinhoud verskil van patat tot patat, so wanneer jy die mengsel aanmaak, kan dit nodig wees om ekstra meel of eier by te voeg sodat jy koekies daarvan kan vorm. Dit sal geen verskil aan die eindresultaat maak nie.