Foto: Donna Lewis
Dié uieslaai met sy mosterdsous is geëet by elke Kersfees, braai of fees wat ons gehou het. Ouma Bettie se slaphakskeentjies bly steeds die beste! Probeer die resep – ek kan jou belowe, jy gaan nog en nog skep!
Genoeg vir 8-10
1 kg baba-uie
10 ml mosterdpoeier
30 ml korrelmosterd
5 ml mielieblom
5 ml borrie
60 ml koue water
500 ml witwynasyn
145 g (180 ml) suiker
3 ml sout
3 eiers
Plaas die uie in ’n pot met genoeg water om dit te be- dek en laat 20-30 minute stadig kook. Moenie die uie pap kook nie. Dreineer. Meng die mosterdpoeier, korrelmosterd, mielieblom en borrie met die water. Klits dit met ’n draadklitser tot ’n gladde mengsel. Meng die asyn by. Gooi die suiker en sout in ’n middelslagpot en voeg die asyn-en-mieli- eblommengsel daarby. Meng goed met ’n draadklitser. Verhit stadig oor matige hitte tot die suiker opgelos is en die mengsel begin kook. Roer heeltyd om te voorkom dat klonte vorm. Klits die eiers deeglik in ’n mengbak. Voeg die asyn- mengsel bietjie vir bietjie daarby terwyl jy aanhoudend roer. Moenie die eiers by die asynmengsel voeg nie, want dit sal skif. Gooi dit dan terug in die pot, verhit stadig en hou aan roer tot verdik. Gooi die warm sous oor die uie en meng goed deur. Laat heeltemal afkoel en hou in die yskas tot voor opdiening. Die uitjies raak lekkerder hoe langer dit staan. So, maak dit liefs ’n dag of wat vantevore.