Warm caprese-slaai

Foto: Donna Lewis


Dié klassieke Italiaanse slaai kry bietjie stamina met parmaham. Soek by klein groentewinkels en plaaslike markte na plaastamaties, of soos my ouma dit noem, vleistamaties. Hulle hou hul vorm beter wanneer jy dit bak.

Genoeg vir 6 persone

100 ml balsamiese asyn
30 ml bruinsuiker
2 heel steranyspeule
10 groot tamaties
12 repies parmaham of strepiespek
45 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
150 g sagte mozzarellakaas (buffalo mozzarella)
1 hand vol basiliekruid

Verhit die oond tot 220 °C. Plaas die asyn, bruinsuiker en anys in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt en laat wegkook met die helfte, sowat 5–8 minute. Draai die tamaties toe met ham of spek en pak op ’n bakplaat. Sprinkel olyfolie oor. Geur goed met sout en peper. Bak 10–12 minute of tot die ham bros is en die tamaties begin oopbars. Plaas op ’n opdienbord en breek mozzarellastukke oor. Kap basiliekruid grof en strooi oor. Skep die sous oor. Sit voor.

WENK: Gee ekstra tekstuur met bruschetta. Maak só: Sny 1 Franse baguette in 1 cm-snye en sprinkel olyfolie daaroor. Braai tot goudbruin en bros in ’n warm pan. Haal uit die pan en vryf met ’n knoffelhuisie. Sit warm voor saam met die slaai.