Foto: Donna Lewis
Tydens ’n vakansie in Nederland het ek vir my ’n wafelpan gekoop wat jy oor ’n oop vlam gebruik – hulle maak stroopwafels daarmee. ’n Mens kry panne met interessante patrone wat baie mooi wafels maak.
Genoeg vir 12-16
100 g (180 ml) koekmeel
100 g (190 ml) versiersuiker
15 g (30 ml) kakaopoeier
4 eierwitte
100 g (110 ml) botter, gesmelt
Sif die droë bestanddele in ’n groot mengbak saam. Voeg die eierwitte en botter by en klits met ’n draad- klitser tot glad. Verwarm jou wafelpan en spuit dit goed met kleefwerende kossproei (dit kan ’n pan wees wat oor ’n oop vlam of op ’n stoofplaat gebruik word). Skep ’n klein bietjie beslag daarin en bak 5–8 minute of tot die wafel bros en gaar is. Herhaal tot al die deeg opgebruik is. Laat afkoel en sit voor met sterk koffie of yskoue soetwyn.
As jy nie ’n wafelpan het nie, maak dan wafelkoekies soos volg: Verhit die oond tot 180 °C. Voer ’n pan met bakpapier uit en spuit dit baie goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol beslag daarin en smeer dit papierdun op die papier. Bak 5–8 minute en laat afkoel tot bros.