Rocky road-sjokoladekoek

Foto: Donna Lewis


Rocky road-sjokoladekoek

’n Beter bederf kry jy nie maklik nie. Maak seker jy het iets van alles in. Malvalekkers en moutballe is ’n moet. Gee jou verbeelding vrye teuels.

Genoeg vir 12 porsies

1 x 300 g-pak klein malvalekkers
600 g moutballe (Whispers)
1 x 100 g-sakkie pistasieneute
1 x 100 g-sakkie witsjokoladesplinters
300 g donker sjokolade, gesmelt
verjaardagkersies

Voer ’n 30 cm-losboomkoekpan met bakpapier uit. Plaas al die bestanddele behalwe die gesmelte sjokolade in ’n groot mengbak. Gooi die sjokolade oor en meng goed met ’n houtlepel. Gooi die hele mengsel in die koekpan en druk dit stewig vas met ’n houtlepel. Bedek met nog ’n stuk bakpapier en plaas ’n skoon bord met iets swaars daarop bo-op die koek om dit af te druk – ek gebruik sommer blikkies vrugte. Plaas dit in die yskas vir 20–25 minute of tot die sjokolade gestol het. Haal uit die ringpan, sit op ’n koekbord en versier met verjaardagkersies.