Foto: Donna Lewis
Soos elke vrou ’n swart rokkie in haar kas moet hê, moet elke kombuis ’n goeie sjokoladekoekresep hê. Dié resep sal jou nooit in die steek laat nie en is baie maklik om te maak. Dit was selfs die wenkoek van episode een van kykNET se Koekedoor! Jy kan die beslag ook gebruik om kolwyntjies mee te maak.
Een koek
195 g (210 ml) botter
410 ml water
70 g (175 ml) kakaopoeier
420 g (750 ml) koekmeel
10 ml koeksoda
10 ml bakpoeier
600 g (710 ml) strooisuiker
3 eiers
190 ml karringmelk
200 g (250 ml) witsuiker
250 ml water
Sjokoladeversiersel
500 ml room
650 g goeie gehalte-sjokolade, gekap
125 g bessies
ekstra kakaopoeier vir rol
Verhit die oond tot 160 °C. Plaas die botter en water in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. Meng die kakao by. Sif die meel, koeksoda, bakpoeier en suiker saam. Meng die eiers en karringmelk. Voeg die botter- en karringmelkmengsel by die droë bestanddele en meng goed. Spuit ’n 20 cm-patroonpan (Bundt-pan) met kleefwerende kossproei. Gooi die beslag in die pan en bak 40–45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Bring die suiker en water tot kookpunt en laat afkoel. Gooi oor koek sodra dit uit die oond kom en laat 10 minute in die pan afkoel en keer uit op ’n afkoelrak.
Sjokoladeversiersel: Bring die room tot kookpunt en gooi dit oor die gekapte sjokolade. Roer tot glad en laat effens afkoel. Plaas die afgekoelde koek op ’n opdienbord en gooi die sjokoladesous bo-oor. Rol die bessies in kakaopoeier en rangskik dit bo-op die koek. Sit voor.