Foto: Michael le Grange
'n Maklike sjokokoladekoek wat jy binne minute in jou mikrogolf bak!
genoeg vir een 20 cm-koek
250 ml (140 g) koekmeel
250 ml (220 g) strooisuiker
10 ml bakpoeier
2 ml sout
40 ml kakaopoeier
125 ml warm water
125 ml karringmelk
5 ml vanieljegeursel
2 groot eiers, geklits
60 ml sonneblomolie
125 ml room
200 g donker sjokolade, fyngekap
25 g bessies van jou keuse
Spuit ’n mikrogolfbestande 20 cm-ringpan goed met kleefwerende kossproei. Meng die meel, strooisuiker, bakpoeier en sout. Meng die kakao met warm water tot glad en voeg die karringmelk en vanieljegeursel by. Voeg eiers en olie by en meng goed. Giet die vloeistofmengsel by die droë bestanddele en klits tot gladde beslag. Keer uit in pan. Mikrogolf die mengsel vir 7-10 minute tot uitgerys en gaar. Die koek sal klam wees bo-op. Laat staan vir 10 minute in die mikrogolfoond. Keer uit en laat heeltemal afkoel.
Bolaag: Verhit die room tot kookpunt en gooi oor die gekapte sjokolade. Roer tot ’n gladde mengsel. Skep die sjokolademengsel oor die koek en pak bessies bo-op. Laat stol die sjokolade en sit voor.