Sjokolade-en-springmielietert

Foto: Michael le Grange


Bederf jou geliefdes met hierdie soet fees van sjokolade en springmielies. Hierdie resep maak jy sommer in 'n japtrap in die mikrogolf!

Genoeg vir een 20 cm-tert

30 ml sonneblomolie
115 g springmieliepitte (ek verkies Biggi s’n)
varsgemaalde seesout
200 g-pak tenniskoekies, fyngemaak
100 g (110 ml) botter, gesmelt
200 g donker sjokolade, fyngekap
180 ml room
40 g botter

Plaas die olie en pitte in ’n groot mikrogolfbak met ’n deksel. Mikrogolf op hoog en laat die pitte spring. Geur die gaar springmielies goed met seesout. Meng die koekiekrummels en gesmelte botter tot dit die tekstuur van klam seesand het. Spuit ’n losboom-tertpan van 20 cm goed met kleefwerende kossproei. Voer die pan uit met die krummels. Plaas die sjokolade, room en 40 g botter in ’n mikrogolfbestande glasbak. Mikrogolf vir so 5 minute terwyl jy mengsel elke 2 minute roer tot gesmelt en glad. Giet die mengsel in die uitgevoerde pan en smeer gelyk. Pak die springmielies bo-op en laat stol vir 2 uur of oornag in die yskas. Haal uit die pan en sit voor.