Foto: Michael le Grange
Hierdie koek bestaan uit net ses basiese bestanddele: sjokolade, eiers, suiker, room, kakao en melk. Dis hóé jy dit aanmekaarsit wat die indruk maak! Dit bevat geen meel of rysmiddel nie.
genoeg vir een 22 cm-koek
KOEKBASIS
11 eiers, geskei
360 g (430 ml) strooisuiker
100 g (250 ml) kakaopoeier
MOUSSE
10 ml gelatien
30 ml water
310 ml melk
310 g donkersjokolade
500 ml room
GLASEERSEL
350 ml room
300 g donkersjokolade, fyngekap
24 uur voor jy die koek voorsit Verhit oond tot 180 °C. Voer 3 losboompanne van 22 cm in deursnee met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kos- sproei. Plaas eiergele in skoon bak en voeg helfte van strooisuiker by. Klits met handklitser by hoë spoed tot ligte eiergeelskuim, sowat 5-8 minute. Plaas eierwitte in aparte skoon bak en klits met skoon menger tot sagte punte vorm. Gooi terwyl menger loop res van strooisuiker geleidelik by. Hou aan klits tot blink en styf. Vou kakao by eiergeelskuim in. Vou eierwitmengsel by eiergeelmengsel in. Verdeel mengsel tussen 3 voorbereide panne en bak vir 10-12 minute of tot gaar – wanneer jy liggies op die koek druk, spring hy terug. Laat afkoel in die panne.
Maak nou die mousse Sprinkel gelatien op water en laat staan 2 minute. Verhit melk tot kookpunt en voeg gelatien by. Roer tot gesmelt. Gooi helfte van melk oor sjokolade en roer tot sjokolade gesmelt het. Gooi res van melk by en roer tot gemeng. Pols met staafmenger tot gladde mengsel. Laat afkoel tot kamertemperatuur – die mengsel moet begin stol aan die kante. Klop room tot sagte punte vorm en vou by sjokolademengsel in.
Sit koek so aanmekaar Keer koeklae uit panne. Hou een pan en voer die pan onder en aan die kante uit met bakpapier. Plaas eerste koeklaag onder in pan. Skep van mousse oor. Plaas nog ’n koeklaag bo-op mousse, gevolg deur nog van mousse. Herhaal nog een keer. Plaas koek oornag in vrieskas. Maak koek klaar Verhit room vir glaseersel tot kookpunt en gooi oor fyngekapte sjokolade. Roer tot sjokolade gesmelt het en mengsel glad en blink is. Haal bevrore koek uit vrieskas en plaas op afkoelrak wat bo-op ’n bakplaat staan. Gooi sjokoladeglaseersel met een beweging oor koek en laat dit afloop teen kante. Plaas vir 2 uur in yskas sodat koek kan ontdooi. Versier met sjokoladeskerwe (sien wenk).
WENK Maak sjokoladeskerwe deur gesmelte sjokolade te smeer oor velle asetaat- plastiek (kyk by skryfbehoeftewinkels). Laat effens stol en rol plastiekvel met sjokolade op. Laat stol tot hard. Rol plastiek oop en sjokolade sal in skerwe met geronde vorm breek.