Foto: Donna Lewis
Daar was nie ’n troue, verjaardag of begrafnis in Upington waar éclairs nie hul verskyning gemaak het nie. My ma het die tafels oorlaai met alles van sjokolademousse tot karamel. Dié resep is ook geskik vir die bak van ronde poffertjies.
Genoeg vir 12
100 g (110 ml) botter
250 ml water
140 g (250 ml) meel
5 ml sout
4 eiers
250 ml room
30 ml versiersuiker, gesif
5 ml vanieljegeursel
100 g donkersjokolade, gesmelt
versiersuikerom oor te sif
eetbare blomme vir opdiening
Verhit die oond tot 180 °C. Plaas die botter en water in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt met die deksel op. Sif die meel en sout saam op ’n stukkie bakpapier. Sodra die water kook en die botter gesmelt het, verwyder die deksel en gooi die meel met behulp van die papier op een slag in. Verlaag die hitte en roer met ’n houtlepel tot alles in ’n bol saamkom en niks aan die kant van die pot vassit nie. Gooi die mengsel in ’n middelslag-mengbak en laat dit tot kamertemperatuur afkoel. Breek die eiers een vir een in en meng goed met ’n draadklitser ná elke byvoeging. Skep die mengsel in ’n versiersak met ’n tuit van 1,5 cm in deursnee. Trek 10 cm-lyne sowat 4 cm uitmekaar met ’n potlood op bakpapier. Plaas met die potloodmerke na onder op ’n bakplaat en bespuit met kleefwerende kossproei. Gebruik die potloodlyne as gids en spuit lang worse met die beslag. Bak 30–40 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel. Klits die room tot sagte punte vorm, vou die versier- suiker en vanielje in en skep in ’n versiersak. Sny die koue éclairs oorlangs oop en vul hulle met vanieljeroom. Drup gesmelte sjokolade bo-oor en bestuif met versier- suiker. Sit voor met eetbare blomme.